The life Hermann Friedrich Kohlbrugge
dr. Hermann Friedrich Kohlbrugge - 1803-1875

Naar Meetingpoint
Indexpagina
H.F. Kohlbrugge DE MENS NIETS, CHRISTUS DAARENTEGEN ALLES

1.1.1 Inleidend

Die onderwerp wat in hierdie studie onder oë geneem word, is die Christologie van Hermann Friedrich Kohlbrugge .
Hierdie tema word hier inleidend toegelig deur aan te dui wie Kohlbrugge was en wat onder Christologie verstaan word.

1.1.2 Kohlbrugge

Kohlbrugge was 'n Nederlands-Duitse teoloog wat geleef het van 1803 tot 1875.
Hy sou egter eerste gewees het om 'n studie soos hierdie een af te wys, want op 'n keer sou hy gesê het:

"Wie mij begrepen heeft, schrijft geen boek over mij" (Hesse, 1980:15).

Sy bedoeling met hierdie woorde kon gewees het dat hy nie wou hê dat iemand ooit 'n boek oor hom moes skrywe nie. Wat egter veral in hierdie uitspraak na vore kom, is sy sterk houding teen mensverheerliking. Daarvan wou hy niks weet nie. Dat dít die bedoeling van die uitspraak kon gewees het, lyk nog meer moontlik in die lig van 'n brief wat hy aan barones Van Verschuer, die vrou met wie hy later in 'n tweede huwelik sou tree, geskryf het (Groot, 1956:161-162):

"Mijne geliefde Vriendin! Wat hebt gij toch al voor verwachtingen van mij, en wat is dat, dat broeder N.N. zegt, wij zijn Kohlbruggiaansch in leven en sterven - o, slaat mij toch in het geloof dood, en sterf mij af in uwe harten, zooals gij der wet afgestorven zijt; mogt gij mij voor dood houden, mogt ik u dood zijn, zooals de wet dood is; heb ik, een arm en ellendig zondaar, de voornaamste van u allen, u eenigzins den weg mogen wijzen naar onzen overzoeten, overschoonen en algenoegzamen Heere Jezus, zoo houdt mij als staande nu achter den troon, maar uzelven als die er voor staat; - wat heb ik van den kruier te praten, als ik voor mijnen Weldoener sta. Het is een bewijs dat men nog niet ten volle verzekerd is, als men zich gaat beroepen op een hand vol stof."

Nie die kruier, die mens, is belangrik nie, maar die Weldoener, dit wil sê Christus. Kohlbrugge wil die weg na Hom aanwys. Hy moet in die kalklig wees en die mens op die agtergrond. Wat is die mens immers anders as 'n arm en ellendige sondaar, 'n handvol as!
Vir Kohlbrugge is die mens glad niks nie, Christus daarenteen alles.

Wanneer hier dan tog - teen Kohlbrugge se eie wens in - 'n studie oor hom gedoen word, is die bedoeling nie om Kohlbrugge te verheerlik nie, maar om hom vir die kerk van vandag te belig as teoloog wat die mens wegwys van homself na Christus alleen. Dit sou sekerlik wel Kohlbrugge se goedkeuring weggedra het.
Juis vanweë sy hartstogtelike oortuiging dat die mens niks is en niks kan nie en dat alles van Christus alleen moet kom, was Kohlbrugge 'n erg omstrede teoloog in sy tyd. Aan alle kante het hy trompop gebots teen strominge wat nie sy siening gedeel het nie. Daarom is hy afgesit as proponent in die Herstelde Lutherse Kerk in Amsterdam en om dieselfde rede wou die Hervormde Kerk in Nederland hom nie as lidmaat opneem nie. Dit was eweneens die oorsaak van sy breuk met die Reveil en sy afwysing van die Afskeiding.

Wie aan Kohlbrugge dink, dink sekerlik eerste aan sy preek oor Romeine 7:14: dit het hom by sommige berug gemaak. Die rede daarvoor was weereens sy radikale afwysing van die mens en die verheerliking van Christus alleen. Daarby moet melding gemaak word van sy boek oor Matteus 1 wat die vermoedens van sy teenstanders versterk het dat hy 'n antinomiaan was en ook aanleiding gegee het tot die aanklag dat Kohlbrugge die sondeloosheid van Christus aantas.
Kohlbrugge was egter nie net omstrede nie. Hy het ook 'n groot invloed uitgeoefen. In Duitsland en in Nederland was sy preke en geskrifte gesog. Dit is selfs na Engels vertaal. So ver as in Amerika is van hom kennis geneem. Hy het nie alleen in sy eie tyd 'n verstrekkende invloed gehad nie, daar is vandag ook hernude belangstelling in hom. Kohlbrugge is dus iemand van wie se standpunte 'n mens behoort kennis te neem.

1.1.3 Christologie

Die term Christologie kan soos volg omskryf word:
dit is daardie locus in die Dogmatiek wat handel oor die persoon en die werk van Christus.
Dit neem 'n baie prominente plek in die teologie van Kohlbrugge in.

1.2 Probleemstelling

1.2.1 In die tyd na die Reformasie het die Subjektivisme na vore gekom.
Eers was daar die Ortodoksie waarin die aandag van die belofte van God na die hart van die subjek verskuif het (Jonker, 1983b:75).
Vroomheidsbewegings, by name die Puritanisme in Engeland, die Nadere Reformasie in Nederland en die Piëtisme in Duitsland, het ook op die voorgrond begin tree.
Dit was strominge wat heel dikwels die vroom mens in die middelpunt geplaas het met dié negatiewe gevolg dat die heilswerk van Christus na die agtergrond gedring is (Jonker, 1983b:77-81).
Die agtiende eeu weer, was die eeu van die Aufklärung, 'n stroming wat gekenmerk is deur 'n onbegrensde vertroue in die menslike rede.
Vir die rasionalisme was Jesus slegs leraar van die natuurlike godsdiens en voorbeeld van die ware deug (Berkhof & De Jong, 1975:232-233).
In die tyd van Kohlbrugge self, dit is die negentiende eeu, was die rasionalisme nog lank nie dood nie, maar het voortgeleef in die rasionalistiese Supranaturalisme.
Uit reaksie teen hierdie gees het die Reveil ontstaan, wat egter eweneens 'n beweging met besondere belangstelling in die subjek was (Jonker, 1983b:81; vgl. ook Loos, 1948: 83).
Kohlbrugge verset hom teen die Subjektivisme van sy tyd (Haitjema, 1953:126-127) en vra weer aandag vir die heilswerk van Christus (Jonker, 1983b:95).
Vanuit 'n radikale visie op die algehele verdorwenheid van die mens en die boodskap van die evangelie dat die heil van die sondaar alleen in Christus geleë is, keer hy hom teen die liberale teologie, sowel as teen die bevindelike vroomheid van die Nadere Reformasie, die Reveil en die Afskeiding (Jonker, 1983b:95).


Top | Index
RagSoft